< Back

Letter to Piet Rudolph by Nelson Mandela

4 November 1993

Geagte Mnr Rudolph,

Ek dank u vir u brief van 22 Oktober 1993.

Ek het u brief aandagtig gelees omdat dit in die ANC se belang is om die vrese en bekommernisse te begryp wat verskillende seksies van ons gemeenskap treiter.

Suid-Afrika is nou onwrikbaar op `n weg vanaf apartheid en wit minderheidsregering na`n nie-rassige en nie-seksistiese demokrasie. Niemand sal hierdie gang van sake kan stuit nie.

Hierdie oorgang van apartheid na demokrasie geniet die ondersteuning van die meerderheid Suid-Afrikaners, beide swart en wit. Dit is `n oorgang wat ons almal behoort te inspireer met hoop en entoesiasme vir die toekoms.

Dit is `n bron van kommer dat, desnieteenstaande, daar dele van ons, gemeenskeap, bestaan, hoe klein okal, wat the oorgang vrees. Dit is ons plig om altyd te kyk na die besorgdhede wat bestaan, met die oog daarop om sulke mense bewus te maak van die grootsheid van die toekoms wat op ons wag.

Daar is individue en seksies van ons gemeenskap, met wie ons gepoog het om ons mee op te hou, ten einde alles moontlik te vermag om te verseker dat die nuwe demokratiese, orde die vooruitsig van `n stabiele oorgangsproses en vrede, inhou.

Dit is dan ook waarom ons verskeie gesprekke gevoer het met die Afrikaner Volksfront, die Afrikaner Volksunie en Afstig, asook met talle individue. In al die gesprekke wat ons gevoer het, het ons gestreef daarna om konkrete voorstelle uit te lok, beide ten einde te verstaan waaroor mense besorgd is, en om maniere te vind om die besorgdhede aan te spreek.

Oplossings kan nie gevind word binne wye veralgemenings nie. Dit is jammer dat tot op hede, meeste van die groeperinge nie instaat was om te reageer op ons versoeke nie.

Deel van die probleem is dat ons land al te lank gekondisioneer is om na die ANC met vyandigheid en vrees te kyk. Die gemoedere van vele is deur die ideologie van apartheid geslote. Nietemin sal die ANC aanhou om uit te reik na diegene wat verstengel is deur hul eie vrese vir verandering en demokrasie.

Dit is die gees waarin ek u brief gelees het. Soos ek dit verstaan, berus u siening op `n aanname dat daar `n onderskeid bestaan tussen "Boere" en "Afrikaners". Op grond hiervan dring u aan op die reg van die "Boerevolk" tot selfbeskikking in die vorm van `n herwinning van "boere onafhanklikheid" vir die Transvaal. U beweer verder dat hierdie nie `n rassistiese posisie is nie, en dat dit spruit uit "volksnasionalisme".

Deels spruit die tragedie van ons land uit die feit dat te weinig mense in die wit gemeenskap nog ooit daarin geslaag het om oplossings te oorweeg wat verder reik as hul besondere belange, en om die belange te plaas binne die konteks van die regte van alle Suid-Afrikaners. Indien ons vrede wil bewerkstellig, sal ons almal moet leer om eiebelang te toets, aan die eise van die hele SuidAfrikaanse nasie. Enige ander raamwerk doen afbreuk aan ons menswees en laat ons met `n toekoms van `hond-eet-hond`.

Wanneer ons spesifieke vrese en sorge aanspreek, moet ons uitgangspunt altyd toewyding aan die daarstelling van demokratiese regering, wees. Die ANC het waardering daarvoor dat in ons gemeenskap, `n verskeidenheid kulture, tradisies en godsdienste, verweef is. Daar kan geen vrede en stabiliteit wees nie, nog enige demokrasie, indien enige hiervan die geleentheid ontse word om te floreer en ontwikkel. Hierdie verskeidenheid, se die Wyheidshandves, is deel van die rykdom van ons land. Oplossings moet dus voortvloei uit die erkenning van die regte van individue en van die kulturele verskeidenheid van ons mense.

Dit dan is die raamwerk waaarbinne ons gepoog het om die besorgdhede teenwoordig in ons gemeenskap, tegemoet te kom.

U wys die reg van elke persoon om `n gelyke stem te he, af, as sou dit irrelevant wees in die stryd om vryheid. Dit is juis hierdie skeiding van vryheid en gelykheid, en dat daar nagelaat is om die indiwidu voorop te stel, wat ons land gelei het na rassekonflik, en tot `n misdaad teen die mensdom in die vorm van apartheid.

Die onderskeid wat u maak tussen Boer en Afrikaner help ons geensins in die soeke na oplossings nie. Dit verstrengel ons in interpretasies van die geskiedenis wat verskonings vir die ongeregtighede van die verlede soek.

Die feit van die saak is dat alle witmense stemreg geniet het en die regeringstelsel van hierdie land is gebaseer op minderheidsregering. Verskille en konflikte in dele van die wit gemeenskap is altyd bygele op grond daarvan dat almal stemreg gehad het. Die wyse waarop dit geskied het, het altyd die meerderheid van die mense uitgesluit, hetsy van swart, kleurling of Indier-afkoms.

Die einste "Boer" waarna u verwys, wat die Versailles konferensie bygewoon het aan die einde van die eerste weredldoorlog, om onaflianklikheid vir die Boere op te eis, naamlik Generaal J.B.M. Hertzog, is `n leersame gevallestudie. Hy was een van dertig afgevaardigdes, onder wie die meerderheid Afrikaners was wat lede was van die Nasionale Konvensie van 1909, wat die Unie van Suid-Afrika gebaar het in 1910. Hy was `n lid van die eerste kabinet vanaf 1910 tot 1912, waar by "Minister van Naturellesake" was. Hy was Eersteminister van Suid-Afrika van 1924 tot 1939. Verder was by Minister van Onderwys in die OVS voor Uniewording.

Sy loopbaan in diens van die staat as "Boer", vertel `n eie verhaal oor die wyse waarop apartheid geskep is. Onder sy ministerskap het die eerste kabinet na Uniewording die Naturelle Arbeidsverhoudinge Wet, en die Myn en Werke Wet, deurgevoer, en by was `n dryfveer agter die 1913 Wet op Grondeienaarskap, hoewel hy al indertyd die Parlement verlaat het. Hierdie drie wette was die hoekstene van die Unie se wetlike slawerny van die swartmense.

Gedurende sy eersteministerskap, is die Industriele Konsoliasie Wet van 1924, en die Lone Wet van 1925, gepromulgeer om wit arbeiders en wit lone te beskerm. Onder hom as Eersteminister, het Afrikaans Hollands vervang as amptelike taal, en tweetaligheid het verpligtend vir staatsdienswerkers geword. In 1926 is die "Representation of Natives Act" voorgele aan die Parlement om die verwydering van die Kaapse, swartmense van die kieserslys te verwyder. So ook is die "Native Trust and Land Act" in sy tyd deurgevoer.

Ek sou na nog vele ander wette kon verwys waarvoor by direk verantwoordelik gehou kan word. Ek wil net nie verder tyd daaraan bestee nie. Die punt is dat apartheid die uiteinde of hoogtepunt, van wit minderheidsregering was, en dat dit nooit probleme benader het vanuit die oogpunt van swart Suid-Afrikaners se belange nie. Die onderskeid tussen Boer en Afrikaner is heeltemal subjektief en help ons nie om die besorgdhede van gedeeltes van die wit gemeenskap aan te spreek nie.

Ek waardeer die reguit wyse waaroop u selfbeskikking interpreteer as dat dit noodwendig die herlewing van `n onafhanklike Transvaalse Boererepubliek impliseer. Die geskiedenis begin vir u by die totstandkoming van die Republiek, en eindig met sy ondergang. Vanuit hierdie besondere aannames is u bereid om die oplossing vir die res van ons mense voor te skryf in terme van "volksnasionalismes", wat, om, die minste te se, die boustene van apartheid self was. Ten alle koste moet ons dit vermy om. ons spesifieke belange te verhef tot `n vlak waar hulle as oplossings vir almal in die land afgedwing word. Laat ons eerder eerlik erkenning gee aan die verskeidenheid van volkere in ons land en hulle versoen binne `n gemeenskaplike geheel.

Suid-Afrika is besig om te verander. Niemand en geen seksie van ons gemeenskap kan hoop om `n toekoms te bou op `n terugkeer na die verlede nie. Dit is juis vergange eksperimente in "social engineering" wat ons land tot op die randjie van rampspoed gebring het, wat verwoesting gesaai het in die lewens van ons mense en ons land veroordeel het tot eindelose konflik.

Gewapende konflik het geen plek in `n demokratiese bestel nie. Selfs nou terwyl `n minderheidsregering steeds `n werklikheid is en onderhandelinge plaasvind, is die oproep om `n burgeroorlog en gawapende konflik `n erkenning dat mens gefaal het om mens se saak by die onderhandelingstafel te bevorder. Sommige mense mag sulke dreigemente maak, in die hoop dat hulle kompromis en bedaring sal afdwing. Enigiemand wat inderdaad so `n rigting sou probeer volg, sou `n groot fout begaan.

Die ANC het apartheid beveg en dit oorwin. Vandag is die magte van vrede en demokrasie sterker as al die verdelende neigings wat poog om verandering uit te stel en te stuit, of om enge etniese oplossings af te dwing om die land uitmekaar te skeur. Hulle kan nie en sal nie toegelaat word om die oorhand te kry nie.

Vrede en demokrasie is in die belang van alle Suid-Afrikaners, nie net diegene wat onderdruk en uitgebuit was onder wit oorheersing nie. Dit is in die belang van die wit gemeenskap ook, insluitend diegene waarop u aanspraak maak dat u hulle verteenwoordig. Vrede en demokrasie is gefundeer op die erkenning van menseregte sonder vooroordeel met betrekking tot klas, kleur, credo of geslag. Die toekoms wat ons ingaan, laat die verskeidenheid van mense toe om te gedy, en laat die indiwidu oneindige ontwikkeling toe. Dit is die weg van eenheid vir ons land, vir `n Suid-Afrikaanse nasieskap en vir `n patriotisme wat vir die eerste keer `n visie van vrede en vriendskap sal omvat.

Ek doen `n beroep op u en diegene wat soos u dink, om na die toekoms te kyk, nie met vrees nie, maar met die oog op die geleenthede wat dit aan ons almal bied.

Die uwe

(signed)

N.R. Mandela
President van die African National Congress